17/06/2021
So is ons verraai (5)
Uit: Kruger, Paul: Settlement of the Boer-Afrikaner People’s claim to territorial self-determination: Inviting international intervention. (Verkrygbaar by Chantal Kruger, VVK-kantoor, tel. 079 740 7214).
Die Nasionale Party, Eerste Wêreldoorlog en die Rebellie: 1914
Volgens die Grondwet van 1910 het Boere-Afrikaners en Engelssprekende Suid-Afrikaners amptelik gelyke status in Suid-Afrika geniet. Dit was egter net teorie, in die praktyk was dit ʼn perd van ʼn ander kleur. Die nuwe Anglofiele, Botha en Smuts, het gesorg dat Britse belange voorrang geniet en die jingopers kon doodeenvoudig voortgaan om haat teen die Boere uit te spuug. Die groot mynmagnate het voortgegaan om Boere- en swart mynwerkers meedoënloos uit te buit, want die nuwe regering was, net soos Milner tevore, aan die geldmag se kant. Die grootste gros van staatsdiensposte, veral in die middel- en senior vlakke, het na Engelssprekendes gegaan en die Engelse oorheersing van die onderwysstelsel het onverpoosd voortgeduur (Van der Walt et al.: 482-483).
Hierdie stand van sake het uiteindelik te veel vir generaal J.B.M. Hertzog, ʼn stoere Boeregeneraal in Botha se regering, geword. Hy het Britse imperialisme toenemend met die leuse “Suid-Afrika eerste” beveg, sodat Botha hom uiteindelik uit sy kabinet geskop het. In 1914 het Hertzog toe die Nasionale Party gestig. Baie Boere-Afrikaners wat ontnugter geraak het in Louis Botha en die Britse juk wou afskud, het spoedig ʼn politieke tuiste in dié party gevind. Toe die Eerste Wêreldoorlog later dieselfde jaar uitbreek, het ʼn aansienlike getal Boere teen die Bothakabinet se besluit om aan Britse kant tot die oorlog toe te tree, gerebelleer. Hulle kon eenvoudig nie kleinkry dat Botha saam met Brittanje, wat ʼn skrale twaalf jaar tevore Boerevroue en -kinders vermoor, en Suid-Afrika steeds uitgebuit het, wou oorlog maak nie. Botha en Smuts het vinnig met ʼn oormag teen die Rebelle opgeruk. Onder dwang van hul vroeëre wapenbroers om hulle by die belange van die Britse Ryk neer te lê, het ʼn hele aantal van die rebelle hul lewens en eiendom ingeboet.
Die soeke na ʼn homogene staat
Generaal Hertzog was teen 1919 met goeie reg oortuig dat die groot diversiteit en diepe verdelings die eksperiment met die Suid-Afrikaanse eenheidstaat onwerkbaar sou maak. Gevolglik het hy gedurende die Versailles vredesonderhandelings na afloop van die Eerste Wêreldoorlog sy opwagting in Europa gemaak en by die Britse Eerste Minister, Lloyd George, vir die herstel van die onafhanklikheid van die twee Boererepublieke gepleit. Sy versoek was op VSA president Wilson se “Veertien punte”, en spesifiek die reg op selfbeskikking van kleiner volke wat daarin vervat was, gebaseer. Lloyd George het geweier, en dit was die laaste belangrike geleentheid in ʼn lang tyd wat die Boere sou probeer om hulle grondgebied los te maak van die veeltalige “Suid-Afrika”. Gedurende die opvolgende dekades sou hulle ʼn teenoorgestelde ontbondelingstrategie nastreef: om SA te aanvaar soos wat dit was en wanneer hulle eendag aan bewind sou kom, die tradisionele swart gebiede af te skei ten einde groter homogeniteit in hulle eie gebied te bekom. Dit was ʼn verandering van rigting met vêrreikende gevolge.
Eerste regering van die NP en vryheid sonder feestelikheid: 1924-1934
Gereelde konfrontasies tussen die mynmagnate en hul uitgebuite werkers was vir jare aan die orde van die dag totdat dit in 1922 op ʼn ernstige opstand deur die blanke mynwerkers uitgeloop het. Die myneienaars het, ten spyte van ʼn daling in die goudprys, hulle wins op dieselfde vlak probeer hou deur duisende blanke werkers te ontslaan en hulle poste met laer besoldigde swart werkers wat hulle van die tradisionele swart gebiede oral in Suid-Afrika wou invoer, te vul. Bedreig deur ʼn verdere vlaag van werkloosheid het die reeds onderdrukte blanke werkers begin staak. Hulle getalle is spoedig aangevul deur blanke werkers in ander industrieë. Geweld het uitgebreek en Jan Smuts, wat Louis Botha intussen as eerste minister opgevolg het, het die opstand met militêre geweld onderdruk. Bloed het gevloei en sekere werkers is tereggestel. Na die opstand is 15 000 blanke werkers ontslaan en deur swartes vervang; ʼn skuif wat £3 000 000 in die sak van die magnate besorg het (Hertzog: 65-67).
Die bitterheid teenoor Smuts wat daarop gevolg het was ʼn belangrike rede waarom hy die volgende verkiesing in 1924 teen ʼn koalisie wat deur Hertzog gelei is, verloor het. Die nuwe Eerste Minister het onverwyld die stryd teen Britse opperheerskap voortgesit en het die groot dryfkrag agter die Balfour-verklaring van 1926 geword. Hierdie belangrike dokument het ʼn enkele ingrypende sinsnede bevat wat die einde van die eeue oue Britse heerskappy oor sy dominiums wat deur blankes bewoon is — Suid-Afrika, Australië, Kanada, Nu Seeland en die Ierse Vrystaat — ingelui het:
“...Great Britain and the Dominions are autonomous Communities within the British Empire, equal in status, in no way subordinate to one another in any aspect of their domestic or external affairs...and freely associated as members of the British Commonwealth of Nations” (Inter-Imperial Relations Committee Report: 2).
(“Hulle [Brittanje en die dominiums] is outonome gemeenskappe binne die Britse ryk, gelyk in status, op generlei wyse in enige aspek van hul binne of buitelandse sake die een ondergeskik aan die ander nie, hoewel verbonde deur hulle gemeenskaplike trou aan die Kroon en vryelik verenig as lede van die Britse Gemenebes van Nasies.” — Van der Walt et al.: 518).