VVK - Volksraad Verkiesing Kommissie

17/06/2021

So is ons verraai (5)

Uit: Kruger, Paul: Settlement of the Boer-Afrikaner People’s claim to territorial self-determination: Inviting international intervention. (Verkrygbaar by Chantal Kruger, VVK-kantoor, tel. 079 740 7214).

Die Nasionale Party, Eerste Wêreldoorlog en die Rebellie: 1914
Volgens die Grondwet van 1910 het Boere-Afrikaners en Engelssprekende Suid-Afrikaners amptelik gelyke status in Suid-Afrika geniet. Dit was egter net teorie, in die praktyk was dit ʼn perd van ʼn ander kleur. Die nuwe Anglofiele, Botha en Smuts, het gesorg dat Britse belange voorrang geniet en die jingopers kon doodeenvoudig voortgaan om haat teen die Boere uit te spuug. Die groot mynmagnate het voortgegaan om Boere- en swart mynwerkers meedoënloos uit te buit, want die nuwe regering was, net soos Milner tevore, aan die geldmag se kant. Die grootste gros van staatsdiensposte, veral in die middel- en senior vlakke, het na Engelssprekendes gegaan en die Engelse oorheersing van die onderwysstelsel het onverpoosd voortgeduur (Van der Walt et al.: 482-483).

Hierdie stand van sake het uiteindelik te veel vir generaal J.B.M. Hertzog, ʼn stoere Boeregeneraal in Botha se regering, geword. Hy het Britse imperialisme toenemend met die leuse “Suid-Afrika eerste” beveg, sodat Botha hom uiteindelik uit sy kabinet geskop het. In 1914 het Hertzog toe die Nasionale Party gestig. Baie Boere-Afrikaners wat ontnugter geraak het in Louis Botha en die Britse juk wou afskud, het spoedig ʼn politieke tuiste in dié party gevind. Toe die Eerste Wêreldoorlog later dieselfde jaar uitbreek, het ʼn aansienlike getal Boere teen die Bothakabinet se besluit om aan Britse kant tot die oorlog toe te tree, gerebelleer. Hulle kon eenvoudig nie kleinkry dat Botha saam met Brittanje, wat ʼn skrale twaalf jaar tevore Boerevroue en -kinders vermoor, en Suid-Afrika steeds uitgebuit het, wou oorlog maak nie. Botha en Smuts het vinnig met ʼn oormag teen die Rebelle opgeruk. Onder dwang van hul vroeëre wapenbroers om hulle by die belange van die Britse Ryk neer te lê, het ʼn hele aantal van die rebelle hul lewens en eiendom ingeboet.

Die soeke na ʼn homogene staat
Generaal Hertzog was teen 1919 met goeie reg oortuig dat die groot diversiteit en diepe verdelings die eksperiment met die Suid-Afrikaanse eenheidstaat onwerkbaar sou maak. Gevolglik het hy gedurende die Versailles vredesonderhandelings na afloop van die Eerste Wêreldoorlog sy opwagting in Europa gemaak en by die Britse Eerste Minister, Lloyd George, vir die herstel van die onafhanklikheid van die twee Boererepublieke gepleit. Sy versoek was op VSA president Wilson se “Veertien punte”, en spesifiek die reg op selfbeskikking van kleiner volke wat daarin vervat was, gebaseer. Lloyd George het geweier, en dit was die laaste belangrike geleentheid in ʼn lang tyd wat die Boere sou probeer om hulle grondgebied los te maak van die veeltalige “Suid-Afrika”. Gedurende die opvolgende dekades sou hulle ʼn teenoorgestelde ontbondelingstrategie nastreef: om SA te aanvaar soos wat dit was en wanneer hulle eendag aan bewind sou kom, die tradisionele swart gebiede af te skei ten einde groter homogeniteit in hulle eie gebied te bekom. Dit was ʼn verandering van rigting met vêrreikende gevolge.

Eerste regering van die NP en vryheid sonder feestelikheid: 1924-1934
Gereelde konfrontasies tussen die mynmagnate en hul uitgebuite werkers was vir jare aan die orde van die dag totdat dit in 1922 op ʼn ernstige opstand deur die blanke mynwerkers uitgeloop het. Die myneienaars het, ten spyte van ʼn daling in die goudprys, hulle wins op dieselfde vlak probeer hou deur duisende blanke werkers te ontslaan en hulle poste met laer besoldigde swart werkers wat hulle van die tradisionele swart gebiede oral in Suid-Afrika wou invoer, te vul. Bedreig deur ʼn verdere vlaag van werkloosheid het die reeds onderdrukte blanke werkers begin staak. Hulle getalle is spoedig aangevul deur blanke werkers in ander industrieë. Geweld het uitgebreek en Jan Smuts, wat Louis Botha intussen as eerste minister opgevolg het, het die opstand met militêre geweld onderdruk. Bloed het gevloei en sekere werkers is tereggestel. Na die opstand is 15 000 blanke werkers ontslaan en deur swartes vervang; ʼn skuif wat £3 000 000 in die sak van die magnate besorg het (Hertzog: 65-67).

Die bitterheid teenoor Smuts wat daarop gevolg het was ʼn belangrike rede waarom hy die volgende verkiesing in 1924 teen ʼn koalisie wat deur Hertzog gelei is, verloor het. Die nuwe Eerste Minister het onverwyld die stryd teen Britse opperheerskap voortgesit en het die groot dryfkrag agter die Balfour-verklaring van 1926 geword. Hierdie belangrike dokument het ʼn enkele ingrypende sinsnede bevat wat die einde van die eeue oue Britse heerskappy oor sy dominiums wat deur blankes bewoon is — Suid-Afrika, Australië, Kanada, Nu Seeland en die Ierse Vrystaat — ingelui het:

“...Great Britain and the Dominions are autonomous Communities within the British Empire, equal in status, in no way subordinate to one another in any aspect of their domestic or external affairs...and freely associated as members of the British Commonwealth of Nations” (Inter-Imperial Relations Committee Report: 2).

(“Hulle [Brittanje en die dominiums] is outonome gemeenskappe binne die Britse ryk, gelyk in status, op generlei wyse in enige aspek van hul binne of buitelandse sake die een ondergeskik aan die ander nie, hoewel verbonde deur hulle gemeenskaplike trou aan die Kroon en vryelik verenig as lede van die Britse Gemenebes van Nasies.” — Van der Walt et al.: 518).

10/10/2020

SENEKAL
“Die vuur is in die gras!”
(LJ Bothma)

Dit het destyds ook op die platteland, onder die boere, begin.

Senekal was in twee geskeur. Dit was broer teen broer, buurman teen buurman, Afrikaner teen Engelsman, Boere teen Kakie-Boere. En die swartes was wéér betrokke, soos in die bittere stryd van 1899-1902. Die kerk, die koerante, die howe, die establishment – alles was teen die “rebelle”, of liewer die “protesterende burgers”. Dit hang net af uit watter hoek mens daarna kyk.

Die politici, troue onderdane van Sy Majesteit die Britse koning, het die ding in September 1914 in die parlement begin. ‘n Oorweldigende meerderheid het gestem om ‘n ander land – Duits-Suidwes-Afrika – vir Brittanje te gaan roof. “Urgent Imperial Service” is dié rooftog genoem.

Ja, die storie in die parlement op Majubadag 2018, toe die politici oorweldigend vir die EFF-mosie gestem het om hierdie keer nie ‘n ander land nie, maar hul eie land te roof, is ‘n ou laai van die manne wat die groen kussings in die Kaap warm sit. Ook weer ‘n Engelse naampie gekies – “Radical Economic Transformation.”

In Oktober 1914 het die magistraat op Senekal sy hande vol gehad. Die regeringsmagte onder kommandant J.J. Coen en die “protesterende burgers” onder kommandant Lukas Rautenbach, was almal op die dorpsgronde saamgetrek. Dinge is op die spits gedryf toe Rautenbach en sy volgelinge, gewapen met enigiets van haelgewere tot blykbaar windbukse, die dorp verlaat het en na Paul Roux padgegee het.

“Die vuur is in die gras,” het generaal Christiaan de Wet op sy plaas naby Memel gesê, en toe het die vlaktes begin wemel van rebelle en “Kakies” met gewere en bandoliers vol patrone.

Op Sondag 9 November het die skote by Doornberg (Allemanskraal) geklap. De Wet se seun Danie was onder die gesneuweldes. “Dit is die eerste offer. Ons moet nou deurgaan – enduit,” het die bedroefde maar vasberade ou generaal gesê. Drie dae later is sy kommando by Mushroom Valley uitmekaar geskiet en gejaag.

‘n Week later het Lukas Rautenbach opgeruk en Jan Coen se regeringskommando by Bronkhorstfontein verslaan. Maar die duisende regeringstroepe met hul oormag aan wapens, ammunisie en middele, het op 20 November by Hilly Side – net buite Senekal – wraak geneem.

In die proses moes Rautenbach-hulle die swaar gewonde Martin Krog agterlaat. Die volgende dag het Martin se liggaam onder ‘n laken in die stadsaal op die dorp gelê. Sy vrou Aletta het sy bloedbevlekte skoene sien uitsteek en hom daaraan herken. Die storie word vandag nog vertel dat die regeringsmagte Martin se kop papgeslaan het nadat hulle op hom afgekom het. Die familie het Martin se bloedbevlekte skoene bewaar en 100 jaar later pryk dit op my boek Rebelspoor se omslag.

Die rebelle kon nie daarin slaag om hul vryheid met die wapen te herwin nie. Hulle is gevang en in die tronk gegooi. Eise van derduisende ponde is teen hulle ingestel. Hulle is van hoogverraad aangekla en boetes en tronkstrawwe opgelê. Baie het hul plase verloor, maar die Afrikanervolk het hande gevat en die rebelle is weer op die been gehelp.

Vryheid het eers 46 jaar later gekom – en nié deur die loop van ‘n geweer nie.

In Oktober 2020 kook dit weer op Senekal en is daar ‘n nuwe naam op almal se lippe: Brendin Horner.

12/07/2020

So is ons verraai (4)
Uit: Kruger, Paul: Settlement of the Boer-Afrikaner People’s claim to territorial self-determination: Inviting international intervention. (Verkrygbaar by Chantal Kruger, VVK-kantoor, tel. 079 740 7214).

Die ANC, 1912
Nieblankes was nie deel van die grondlegging van, en het ook geen betekenisvolle politieke regte in hierdie nuwe staat “Suid-Afrika” gehad nie. Die grondwet het bepaal dat slegs blankes lede van die nasionale Parlement in Kaapstad kon wees (Van der Walt et al.: 473). Die nieblankes in die Kaap het die eiendom-gekwalifiseerde stemreg wat hulle sedert die 1850’s bekom het, behou, maar nou, soos toe, het te min van hulle die eiendomsdrempel bereik om enige betekenisvolle politieke invloed te kon uitoefen. Soos reeds gemeld, is die Kaapse nieblankes se gekwalifiseerde stemreg nie na die voormalige Republieke uitgebrei nie.

Hierdie nuwe skepping “Suid-Afrika”, het in 1910 as ʼn Britse kolonie tot stand gekom en sy grondwet was ʼn stuk Britse wetgewing. Dit was ʼn wet van die Britse Parlement wat die nieblankes van politieke mag in Suid-Afrika uitgesluit het.
Die nieblanke bevolking was ongelukkig oor hulle uitsluiting in die nuwe grondwetlike bedeling. Dit het weereens duidelik geword dat die Britte deur hulle nieamptelike militêre bondgenootskap met swartes teen die Boere slegs agt jaar tevore, vêrreikende verwagtinge by die nieblanke bevolking geskep, maar nie nagekom het nie. Swartes en kleurlinge het gedurende 1909, tydens die aanloop na unifikasie, ʼn groot aantal protesvergaderings, insluitend ʼn swart konvensie (“Black Convention”), gehou. Een organisasie, die National Natives Union, het die stemreg vir alle nieblankes op dieselfde basis as vir blankes in die nuwe te stigte staat geëis, dekades voordat soortgelyke eise deur swartes in ander Afrikastate gestel sou word. (In hierdie stadium het selfs blanke vrouens in Suid-Afrika nog nie stemreg gehad nie en dit sou nog dekades duur voordat dit aan hulle toegestaan sou word). Toe hulle in Suid-Afrika voor geslote deure te staan gekom het, het swartes en kleurlinge ʼn deputasie na Engeland gestuur om die Britse Parlement te probeer oorreed om nie die Suid-Afrika Wet goed te keur nie, maar ook dié poging was sonder enige sukses (Van Jaarsveld: 262-265).

By ʼn konferensie te Bloemfontein op 8 Januarie 1912, het ʼn aantal swart leiers naderhand die South African Native National Congress gestig. Die naam is mettertyd na die African National Congress (ANC) verander. In sy openingstoespraak het die sameroeper, Pixley ka Seme, verklaar dat die beweegkrag vir die stigting van die organisasie “creating unity and defending our (Black) rights and privileges” was (Walshe: 14). Van meet af aan het die ANC se doel, naamlik bevordering van swart politieke regte, egter hand aan hand gegaan met die sosialistiese/kommunistiese agenda van baie van sy lede. Teen 1927 is Khaile, ʼn swart lid van die SA Communist Party, as Algemene Sekretaris verkies, en teen die 1950’s het mense soos J B Marks, Moses Kotane en andere gelyktydig leidende rolle in beide die ANC en die SA Communist Party gespeel. Sedert die 1960’s op die laatste, het sosialiste en kommuniste die dominante faksie in die ANC geword (Norval, M: 29-41).

Die Swart Grond Wet (Natives’ Land Act), 1913
Ongeveer ʼn jaar ná die stigting van die ANC het die nuwe Suid-Afrikaanse regering onder Louis Botha as Eerste Minister, die Swart Grond Wet, No 27 van 1913, gepromulgeer. Hierdie wet het betrekking gehad op “enige persoon... van ʼn inboorlingras of stam van Afrika” (“any person... of an aboriginal race or tribe of Africa”). Mense van gemengde afkoms (Kleurlinge) en Indiërs was dus daarvan uitgesluit. Voortgaande op die patroon van Rhodes se Glen Gray wetgewing, het dit geskeduleerde gebiede in Suid-Afrika (sowat 9 000 000 hektaar of 86 000 km²) vir die uitsluitlike okkupasie van swartes afgesonder. Terselfdertyd het dit swartes verbied om in Transvaal, die Vrystaat en Natal grond buite die geskeduleerde gebiede te besit of te huur. Die wet was egter wederkerig: dit het ook blankes verbied om grond in die geskeduleerde swart gebiede te besit. Die geskeduleerde gebiede het uit die dele van die land waarin swartes tradisioneel gewoon het, bestaan, en die wet het hulle teen ontbinding weens moontlike uitkoping deur groot blanke kapitaal, beskerm. Dit het ook vir sekere uitsonderings voorsiening gemaak. So, byvoorbeeld, het dit nie die verkryging en voortsetting van swart eienaarskap van enige grond in die Kaapprovinsie verbied nie, omdat so ʼn verbod swartes sou verhoed het om daar te stem. Swartes, insluitend die ANC, het die wet aanvaarbaar gevind. John Dube, wat in daardie stadium president van die ANC was, het in ʼn brief aan Eerste Minister Louis Botha geskryf: “We make no protest against the principle of segregation in so far as it can be fairly and practically carried out” (Gann & Duignan: 49; Walshe: 47).
Aangesien die Swart Grond Wet swartes verhoed het om grond buite die aangewese swart gebiede te huur, het dit die praktyk van “deelsaaiery” beëindig. Die praktyk het daaruit bestaan dat ʼn swarte selfstandig grond op ʼn blanke se plaas kon bewerk en dan die opbrengs met die eienaar deel. Dié betrokke wet het tot gevolg gehad dat die deelsaaiers na hul stamgebiede moes terugkeer of in diens van die grondeienaar moes tree. Grondeienaars is ook verbied om enige huurgeld of ander vorm van kompensasie van plaaswerkers te ontvang. In die kringe waar die wet misnoeë gewek het, is daar onder andere beweer dat die “deelsaaiers” beter landbouers as die Boere was. Daar mag weliswaar enkele goeie produsente onder die swartes gewees het, maar die algemene voorstelling dat hulle “beter boere as die blankes” was, is net nog ʼn belaglike voorbeeld van anti-Boerepropaganda, veral as in aanmerking geneem word watter gemors swartes ʼn eeu later van boerdery op die beste landbougrond in Suid-Afrika sou maak, ten spyte van die gevestigde plase en ultramoderne toerusting wat hulle van die regering ontvang.

08/07/2020

So is ons verraai (3)

Uit: Kruger, Paul: Settlement of the Boer-Afrikaner People’s claim to territorial self-determination: Inviting international intervention.

Verkrygbaar by Chantal Kruger, VVK-kantoor, tel. 079 740 7214. (die boek is tans net in Engels beskikbaar. ʼn Afrikaanse weergawe sal binnekort verskyn).

Kulturele volksmoord volg op fisiese volksmoord

Milner wou alle spore van Afrikanerskap uitwis (“wipe out all traces of Afrikaanderism”) en het ʼn intensiewe program van verengelsing geloods. Aan die hoof van hierdie veldtog was Milner se “Kindergarten”, ʼn klompie toegewyde jong Engelse Empirebouer-administrateurs. Engels was die enigste voertaal in staatskole, waar Afrikaans (en enige iemand wat dit durf praat het), bespotlik gemaak is. Kinders is sterk geïndoktrineer om die tradisionele Boere-Afrikanerlewenswyse en tradisies te versaak en die Engelse manier van d**k en doen, aan te hang. In reaksie hierop het die Boere (met die bittereindergeneraal, Jan Smuts, aan die spits) hulle eie Christelike Nasionale Onderwys (CNO) skole tot stand gebring. Sonder enige staatsbefondsing en met brandarm ouers het hierdie skole ʼn stryd om oorlewing gevoer. Baie min Boerekinders het — indien hulle hoegenaamd enige skoolopleiding ontvang het — selfs net laerskoolopleiding voltooi. Gedurende 1909 het slegs 26 Transvaalse Boerekinders vir die finale skooljaar, matriek, ingeskryf (Van der Walt et.al.: 441; Giliomee: 225).

Trustees vir die Empire: verraderlike Boereleiers

Genls. Louis Botha en Jan Smuts was aan die einde van die oorlog twee van die mees geëerde Boereleiers en het ná die oorlog steeds in statuur gegroei. As “bittereinders” is hulle saam met ander oorlogshelde soos genls. De Wet, De La Rey en Beyers feitlik verafgod. Wat die Boere nie besef het voor dit heeltemal te laat was nie, was dat beide Botha en Smuts die Boereideaal versaak, en volstoom gewerk het om die belange van die Britse Empire te bevorder. Presies wanneer hierdie kentering plaasgevind het, is nie seker nie, maar daar is rede om te glo dat dit selfs voor die einde van die oorlog begin het. Smuts was een van die Boereafgevaardigdes wat in 1902 by Vereeniging moes besluit of die stryd voortgesit moes word al dan nie. Hy het sonder om te blik of te bloos vir sy medeafgevaardigdes gelieg dat sy logistiese situasie so haglik was dat hy ten gunste van oorgawe moes stem (Maritz: 62-63; Kestell & Van Velden: 61-63).

Hierdie verraad was egter net die begin. Terwyl sy oorlogsmakkers onder die felheid van die na-oorlogse armoede en kulturele volksmoord gesteier het, was die meeste van hulle onbewus van die feit dat hulle bittereindergeneraal Smuts agteraf by Milner se Kindergarten aangesluit en agter die skerms hul Empire-bouprogram onderskryf het (Quigley: 79). So gou as wat Botha en Smuts se samewerking verkry is, het die Britte in 1906 aan die twee voormalige Republieke “verantwoordelike regering” status toegeken. Dit het tot die totstandkoming van politieke partye en regerings wat deur die Boere en Engelse verkies is, in Transvaal en die Oranje-Vrystaat gelei, hoewel hulle steeds onder Britse heerskappy gestaan het. Met die uitgedunde Boeregetalle na die oorlog en Milner se staatsondersteunde Britse immigrasiebeleid, was daar in daardie stadium ietwat meer Engelssprekende mans as die manlike Boere in Transvaal. Botha en Smuts het geen gras onder hul voete laat groei om na die Engelse kiesers te vry nie, terwyl hulle terselfdertyd op die louere van hulle “bittereinder” status by die Afrikaanssprekende gemeenskap gery het. Gevolglik kon hulle maklik as die leidende figure in die naoorlogse Transvaalse politiek na vore tree. Eers eenmaal in beheer in Pretoria, het hulle ware kleure spoedig gewys toe hulle hul steun aan die CNO skole onttrek het (Hancock: 233; Giliomee “The Afrikaners”: 265, 271; Van der Walt et.al.: 440-441). Kort voor lank sou hierdie twee die ideaal van Boere-onafhanklikheid met dieselfde onversetlikheid en metodes as hulle Britse meesters beveg.

Unifikasie: “Suid-Afrika” word in 1910 geskep

Die Britte het reeds voor die Anglo-Boereoorlog daarna gestrewe om die Kaap, Natal, die Oranje-Vrystaat en Transvaal in een land onder Britse gesag te verenig. Die Britse ideaal het natuurlik geen verband met die bevordering van die Boere se belange gehad nie, en hulle het hulle ewemin oor die beste belang van die swart inwoners van die subkontinent bekommer. Na afloop van die Anglo-Boereoorlog het Milner onmiddellik met dié skema voortgegaan. Smuts was reeds voor die oorlog ten gunste van unifikasie in Suider-Afrika. (Giliomee: “The Afrikaners”: 304). Nadat Brittanje die oorlog gewen het, was daar net een vlag waaronder dit kon plaasvind, naamlik die Union Jack, en Smuts het een van die Empire se waardevolste werktuie geword om unifikasie teweeg te bring.

Die Britse oogmerk was om die verskillende gebiede onder Britse beheer te konsolideer. Uiteindelik het die leiers in die gebiede tydens ʼn Nasionale Konvensie op ʼn konstitusionele raamwerk ooreengekom. Dit is deur die Britse Parlement as die Suid-Afrika-wet 1909 gepromulgeer, en het op 31 Mei 1910 die grondwet van die Unie van Suid-Afrika geword. So het die twee voormalige Boererepublieke uiteindelik ook hul status as afsonderlike staatsentiteite verloor en saam met die Kaap en Natal in ʼn enkele nuwe skepping onder die Britse Kroon, naamlik die Unie van Suid-Afrika, opgegaan (Quigley: 73-79; Van der Walt et.al.: 467-477).

02/07/2020

So is ons verraai (2)

Uit: Kruger, Paul: Settlement of the Boer-Afrikaner People’s claim to territorial self-determination: Inviting international intervention.
Verkrygbaar by Chantal Kruger, VVK-kantoor, tel. 079 740 7214. (die boek is tans net in Engels beskikbaar. ʼn Afrikaanse weergawe sal binnekort verskyn).

Namate die guerrillafase van die oorlog voortgesleep het, het die sielpynigende sterftesyfer in die troostelose, oorvol tentkampe weens hongersnood, blootstelling en siekte bly styg.

Die Britte het hulle oorlogspoging deurgaans verskerp en die uitgeputte Boere moes uiteindelik oorgee deur op 31 Mei 1902 die Verdrag van Vereeniging te teken. Dit was ʼn duur oorwinning vir die Britse Ryk; 22 000 soldate het gesterf in ʼn oorlog wat Brittanje £200 000 000 gekos het. Die Republieke het gesamentlik sowat 7 000 burgers op die slagveld verloor, maar bykans vyf keer soveel burgerlikes; ongeveer 115 000 van hulle was in die Britse konsentrasie kampe aangehou. ʼn Kwart hiervan — 27 633 vrouens, bejaardes en kinders — sou nooit die kampe lewendig verlaat nie... 14 431 van hulle was babas onder die ouderdom van twee jaar (Reynolds: 168-172; Pakenham; 539, 595). Vir die Boere, wie se bevolking in die twee Republieke voor die oorlog ʼn geraamde 200 000 getel het, was dit ʼn slagting wat bykans 14% van die bevolking uitgewis het — ʼn volksmoord waarvan die Boerevolk tot vandag toe nog nooit herstel het nie.

DIE STRYD VAN ʼn OORWONNE VOLK, 1902-1948

Van nederlaag tot stedelike agterbuurte

Minder as die helfte van die Boere wat voor die oorlog geboer het, kon boerdery op hulle vernietigde en gestroopte plase hervat. Hulle het gevolglik in hulle duisende na die dorpe op die Rand getrek, waar hulle in haglike omstandighede in krotte in agterbuurtes, moes woon. Boerdery was al wat hulle geken het en omdat die meeste geen formele opleiding gehad het nie, is net sommige as hande-arbeiders teen ʼn hongerloon in diens geneem.

Hulle plase in die vernielde Republieke is deur uitlanders en vreemdelinge vir ʼn appel en ʼn ei gekoop en binne ʼn ommesientjie was ten minste ʼn kwart van Transvaalse plase in die hande van buitelandse kartelle, wat goedkoop Swart arbeiders daarop gevestig het (Giliomee “The Afrikaners”: 307, 322). Al die pogings van die vorige Boereregerings om die Republieke se platteland so homogeen as moontlik te bevolk, is op hierdie wyse binne die kort tydperk van ʼn paar jaar uitgewis. Vanuit hulle tuislande het Swartes in groot getalle nie net na die dorpe en stede gestroom nie, maar ook na plase wat voorheen aan die Boere behoort het.

Die wenner gryp alles

Intussen is die myne reeds gedurende die oorlog weer in bedryf gestel. Teen 1907, terwyl Transvaal al dieper in ʼn afgrond van armoede en ellende gesink het, het die myne goud ter waarde van £26 000 000 per jaar uitgevoer; waarop hulle slegs 5% belasting betaal het (Giliomee: 290).
Die Empire verguis sy Swart bondgenote
Die gekleurde nie-amptelike oorlogtydse bondgenote van die Britte is na die oorlog in die rug gesteek. Die nuwe heersers van die land het spoedig hulle eertydse Swart wapenbroers ontwapen, effektiewe metodes bed**k om hierdie verarmde mense te belas; en voortgegaan om ook in die twee nuwe kolonies paswette (wat al so vroeg as 1809 onder die Britse bewind in die Kaap ingestel is) in te voer. Verder is die lae vooroorlogse lone van Swart mynwerkers met bykans 25% verminder. Swart trekarbeid en die swak lewensomstandighede in die kampongs, wat al by die De Beers myne in Kimberley ontwikkel het, het landswyd die toekomstige norm vir die mynindustrie geword.
Hulle swart wapenbroers het ook geen politieke regte bekom nie. Die Verdrag van Vereeniging, wat die Anglo-Boereoorlog beëindig het, het in artikel 8 bepaal dat die status quo ten opsigte van die stemreg vir nieblankes in die Republieke gehandhaaf sou word tot tyd en wyl selfregering ingestel sou word. Die Britte self sou dus nie die gekwalifiseerde stemreg vir nie-blankes wat in die Kaap gegeld het, na die voormalige Republieke uitbrei nie. Dit was ʼn groot teleurstelling vir die Swartes in die laasgenoemde gebiede, wat onder die indruk was dat dit hulle beloning sou wees vir hulle lojale diens tydens die oorlog. In 1903 het Milner ʼn South African Native Affairs Commission aangestel, wie se aanbevelings vir Britse beleid ten opsigte van Swartes in hulle nuwe kolonies in die algemeen aanvaar en in wetgewing omskep is.

Reeds in 1894 het Rhodes, as Eerste Minister van die Kaap, die eerste swart “tuisland” in Suider-Afrika geskep toe hy die Glen Gray Act gepromulgeer het. Hierdie wet het ʼn sekere gebied in die Kaap uitsluitlik vir Swart bewoning afgebaken, waar die inwoners hulle eie verteenwoordigers kon kies. Swartes wat daar gewoon het, is van hulle gekwalifiseerde reg om vir verteenwoordigers in die Kaapse Parlement te stem, gestroop. In dieselfde trant en gebaseer op voorstelle van Milner se South African Native Affairs Commission, het die Britte Swartes na 1902 verbied om grond tussen blankes in dorpe, stede en die platteland te besit. In stedelike gebiede is daar lokasies (locations) vir hulle afgebaken waar hulle uiteindelik in haglike omstandighede gewoon het. Boonop is die tradisionele stamgronde, wat sowat 3% van Transvaal beslaan het, uitsluitlik vir Swart bewoning gereserveer (Van Jaarsveld: 243; Giliomee “The Afrikaners”: 264-266).

30/06/2020

So is ons verraai (1)

Ons begin vandag met ʼn reeks aflewerings oor die Boere-Afrikanervolk se stryd teen vreemde oorheersing die afgelope 120 jaar. Dit is uittreksels uit die Memorandum aan die internasionale gemeenskap wat wyle mnr. Paul Kruger in opdrag van die Boere-Afrikanervolksraad geskryf het.* Dié geskiedenis is so te sê onbekend, en die onkunde word deur ons vyande benut om die Afrikanervolk voortdurend in die beskuldigdebank te plaas met húlle weergawe daarvan. Sonder die regte kennis is ons weerloos teen hulle propaganda.
* Kruger, Paul: Settlement of the Boer-Afrikaner People’s claim to territorial self-determination: Inviting international intervention.

Verkrygbaar by Chantal Kruger, VVK-kantoor, tel. 079 740 7214. (die boek is tans net in Engels beskikbaar. ʼn Afrikaanse weergawe sal binnekort verskyn).

Die Tweede Vryheidsoorlog (Anglo-Boereoorlog), 1899-1902
Tydens die Tweede Vryheidsoorlog (of Anglo-Boereoorlog) het Brittanje ongeveer 465 000, meestal beroepsoldate, met die beste logistieke steun en wapentuig wat die Britse Leër kon monster, in die stryd gewerp. Hulle het verder ʼn groot aantal Suid-Afrikaanse Indiërs in nie-vegtende rolle ingetrek en uiteindelik ook ʼn geraamde 30 000 Swartes teen die Boere onder die wapen geplaas. Dit is gedoen in weerwil van die feit dat die Swartes nooit eens ʼn party tot die vyandelikhede was nie (Bergh: 253; Pakenham: 569). Dit was ʼn lae en gemene daad wat rasseverhoudings in Suidelike Afrika in die opvolgende dekades ernstig sou versuur.

Om die oormag van ongeveer ʼn halfmiljoen soldate teen te staan, kon die Boererepublieke ongeveer 40 000 burgers in die veld stoot. Hulle was bygestaan deur sowat 13 300 rebelle uit die Kaap en 2 100 buitelandse vrywilligers — almal in verskillende stadiums van die oorlog. Hierdie mag was oor die algemeen nie vir oorlogvoering opgelei nie. Boere tussen die ouderdomme 16 en 60 jaar is vir krygsdiens opgeroep, maar seuns so jonk as 12 jaar en ou manne diep in hulle sewentigs het ook ter wille van hulle kosbare onafhanklikheid gaan veg (Pakenham: 108; 595).

Na aanvanklike briljante oorwinnings is die Boeremagte uiteindelik eenvoudig deur die oorweldigende meerderheid oorrompel. Duisende van hulle is gevange geneem terwyl ander oorgegee of hulle eie magte verraai het. Teen Mei 1902 het Transvaal nog 10 816 burgers in die veld gehad (waarvan 3 296 sonder perde was) en die Vrystaat ʼn skamele 6 100 — ʼn totale gevegsmag dus van minder as 14 000 berede burgers (Kestell & Van Velden: 59). Hierdie klompie Bittereinders het in die veld gebly en het gedurende die guerrillafase van die stryd telkens taktiese oorwinnings oor hulle magtige vyand behaal. Hulle het tot die guerrillastrategie oorgegaan nadat die stede en dorpe deur die vyand ingeneem is. Die Britte het teruggekap deur die Republieke tydens die laaste twee jaar van die oorlog in ʼn woesteny te omskep: oeste is op die lande vernietig; veetroppe is weggedryf of met bajonette doodgesteek, geskiet of verbrand; en feitlik al die Boerewoonhuise is aan die brand gesteek en met inhoud en al vernietig. Te midde van dié omstandighede moes die burgers oorleef op wat die veld kon bied; en toe die voorsiening van wapens ineengestort het, het hulle die geveg met wapentuig wat hulle van die vyand gebuit het, voortgesit (Van Schoor: 11-76; Van der Walt et.al.: 428-431).

Gruweldade van Swartes gedurende die Anglo-Boereoorlog
Alhoewel die Boere hul Swart arbeiders in nie-vegtende rolle aangewend het, het ʼn baie groot deel van die nie-blanke bevolking die moeilike toestand waarin die Boere verkeer het, uitgebuit. Dit geld ook vir die Kleurlinge van die Noord-Kaap (Maritz: 41, 56-58). Reg aan die begin van die oorlog, het die Mmanaana-Kgatla-stam, wat deur die Britte bewapen was, Boerevroue en kinders in die Marico-distrik vermoor en ander ontvoer. Swartes in Britse diens het saam met Haar Majesteit se troepe Boerevrouens en -dogters verkrag. Namate die oorlog aangesleur het, het daar uiteindelik twee maal soveel gewapende Swartes aktief teen die Boere geveg as die totale aantal Bittereinders in die veld. Kort voor die vredesluiting het ʼn horde Zoeloes by Holkrans in Natal ʼn Boerekommando oorval, vermink en uitgemoor (Bergh et. al.: 254). Hierdie verfoeilike dade is nie deur mense wat vir die vryheid van hul volk en vaderland geveg het, verrig nie — dit kon ook nooit gewees het nie, want die Swartes was nie eens ʼn party tot die oorlog nie. Dit was niks anders nie as moorddadige en barbaarse dade wat onder die heersende omstandighede net Britse kolonialisme bevorder het. Hierdie soort optrede van die meerderheid nie-Blankes het groot bitterheid by die Boere teen hulle tot gevolg gehad. Dit het ʼn bespotting gemaak van die Suid-Afrikaanse Swartes se latere geskreeu teen “Wit kolonialisme”.

Oorgawe na die Volksmoord

Dit was egter die volksmoord wat die Britte teen burgerlikes gepleeg het, wat die Bittereinders uiteindelik tot oorgawe gedwing het. Met die Britse vernietiging van alle plase en eiendom gedurende die verskroeideaardefase is vroue, kinders en bejaardes in konsentrasiekampe saamgehok. Hier was geen sprake van voldoende eetbare voedsel en skoon water nie; prakties geen sanitêre geriewe en geen behuising nie. ʼn Britse parlementslid en latere eerste minister, Campbell-Bannerman, het hierdie maatreëls as barbaarse metodes (“methods of barbarism”) bestempel (Pakenham: 529-531).

Address

Pretoria
0184

Alerts

Be the first to know and let us send you an email when VVK - Volksraad Verkiesing Kommissie posts news and promotions. Your email address will not be used for any other purpose, and you can unsubscribe at any time.

Share