Koffie en Krulle op ' n Klein dorpie

Koffie en Krulle op ' n Klein dorpie Het my hoëhakskoene vir vellies verruil en my GPS vir grondpadwysheid!

15/02/2026

Dis vandag Internasionale Moedertaaldag :
Hoe om Afrikaanse idiome optimaal te gebruik.

Vir die wat Afrikaans as Moedertaal geniet !!

"Voor jy dalk hond se gedagtes kry dat ek muisneste het en kattekwaad aanvang deur 'n kat in die donker te knyp, kan ek die aap uit die mou laat dat jy nie hond haaraf gaan maak nie. Die kool is eenvoudig nie die sous werd nie, jy wil verniet die bobbejaan agter die bult gaan haal, ek is nie 'n vroetelvarkie nie.

Omdat ek twee linkervoete en rooi haakskene het, dans ek soos 'n kat op 'n warm plaat. Terwyl ek oor die onderdeur loer, stem my aand- en môrepraatjies nie ooreen nie en sing ek 'n ander deuntjie. Ek sing dan soos 'n kanarie. Ek weet dat die voëltjie wat saans die laaste fluit, soggens eerste deur die kat gevang word, daarom gaan ek saam met die hoenders slaap en lank voor hanekraai klim ek met die verkeerde voet uit die bed om my eiertjie te lê.

Dit het die naweek katte en honde gereën, maar ons hou darem nog kop bo water. Dit staan egter soos 'n p**l bo water dat dit nie nodig is om water met 'n mandjie aan te dra nie. Voor die son water getrek het en die perde horings gekry het, moet ek nie 'n gegewe perd in die bek kyk nie, ek moet die ou koeie uit die sloot grawe, die bul by die horings pak sodat die agteros in die kraal kan kom. Ek moet ook al my varkies op hok sit en daar by oom Daantjie se kalwerhok die kalf uit die put gaan haal.

As jy wors in die hondehok soek, onthou dat blaffende honde nie byt nie. Ek wou nog katte skiet, maar toe is die koeël deur die kerk en ek kry wingerdgriep. Dit was 'n bitter pil om te sluk. Ek was hoog in die takke, want ek het gehoor dat die hoogste bome die meeste wind vang. As die appel nie ver van die boom val nie, kan 'n mens die boom aan sy vrugte ken.

Ek kon nie die kar voor die perde span nie, en het toe maar twee rye spore geloop.
In die dorp het hulle gesê ek speel op Avbob se stoep en dat ek een van die dae 'n houtpak gaan aantrek. Ek het gesê dat ek met 'n goue lepel in die mond gebore is en dat ek nog nie die lepel in die dak gaan steek en boedel oorgee nie. Ek moet rondborstig erken dat die spyker in my doodskis, is dat bloed kruip waar dit nie kan loop nie.

As jy brood in die sweet van jou aangesig eet, moet jy nie met 'n mond vol tande staan nie, jy moet hare op jou tande hê, jy moet jou hand aan die ploeg slaan en die strydbyl begrawe. Weet jy hoe die vurk in die hef steek? As jy wolf skaapwagter maak, moet jy almal oor dieselfde kam skeer."

Dorpie naby die kusOp ons seevakansie sit ek, my ma en die kinders by ’n restaurant en middagete eet, toe ek – met ’n mo...
07/01/2026

Dorpie naby die kus
Op ons seevakansie sit ek, my ma en die kinders by ’n restaurant en middagete eet, toe ek – met ’n mond vol kos – iemand moet groet wat ek van ons tuisdorp af ken. My ma kyk my so skuins aan en vra: “Is daar ooit ’n dag wat verbygaan sonder dat jy iemand raakloop wat jy ken?”
Ek antwoord amper verontwaardig: “Nee, Ma! Só gaan dit elke dag. En niemand groet net nie – elkeen bring sommer ’n hele storie saam.”

En dit is toe dat die penny drop. As jy in ’n dorpie naby die kus woon, is die kusdorpie almal anders se vakansiebestemming.
Die boere van die binneland slaan tente en karavane op vir vrou en kinders, slaap snags langs die see en ry soggens veertig kilometer plaas toe om te gaan boer. Die hoërskoolkinders op die dorp kry vakansiewerk in elke restaurant, stalletjie en winkeltjie, want vakansiegangers – so word geglo – het geld wat brand in hulle sakke. Party mense koop eers ’n vakansiehuis en besluit later om sommer permanent net om die draai in te trek. En dan is daar die families wie se oupagrootjie destyds ’n huis gekoop het – en nou kom die hele familie nog elke jaar getrou terug.

Jy bly egter ’n Inkommer as jy dit waag om op enige ander kusdorpie vakansie te hou.
Maar hier lê nou juis die knoop.

In my tuisdorp is ek elke dag netjies aangetrek, grimering perfek en hare min of meer onder beheer. En nou moet ek strand toe gaan… in ’n kostuum. Skielik raak ek bewus van vetrolletjies wat soos die bladsye van ’n goed geleesde boek oor mekaar lê. Dan praat ek nie eens van die lemoenskil-selluliet wat soos ’n troue familielid aan my bene vasklou nie. As ek al ooit ongemaklik in my eie vel gevoel het, voel ek op die strand meer uit plek as iemand wat met sokkies en plakkies die branders wil aandurf.

Dit is toe dat ek besluit om my fokus te verskuif. Ek kyk hoe my kinders met oorgawe in die water baljaar, hoe hulle lag, spat en leef. Ons speel saam in die see, en skielik voel alles ligter.

En toe besef ek: Vetrolletjie Een was daardie roomys wat ons gedeel het die dag toe Boeta sy tand verloor het. Elke merk, elke vou, elke stukkie van my lyf dra ’n storie. Stories van swangerskap. Stories van wyn drink saam met vriende. Stories van lang, uitgerekte etes saam met geliefdes.

En skielik voel ek nie meer ongemaklik nie – net dankbaar.

24/12/2025

Ons ken almal vir Nataniël - ek deel graag sy Kersboodskap aan julle.

Nataniël kersboodskap:

Wees altyd dankbaar vir alles wat jy het en lewe eenvoudig. Hoe mindergoeters jy het, hoe minder worries het jy ... en hoe lekkerder slaap jy!

Wees onvoorwaardelik lief vir jou gesin en familie en aanvaar elkeen presies net soos hy/sy daar is ... vriende kan jy kies, familie nie!

Moenie toelaat dat jou brein muf met 'issues' soos skuldgevoelens of grudges nie ... sorteer alle strooi uit nog voor die son sak. So moenie toelaat dat mense jou in die rug steek, nonsens praat en skynheilig optree teen jou nie!

Hardloop jou lewens-spiedomitir in die rooi ... help waar jy kan en lewe voluit, terwyl jy nog lewe in jou het ... 'use it - or lose it'!

Geniet die eenvoudige dinge. Die 'image'-goed en 'keeping up with the Jones' is sommer nonsens ... hulle (die Jones') sit in elk geval nou in
Ozzie.

Al wys die 'replay' duidelik dat hy verkeerd is ... maak vrede met die ref se beslissings en jy sal dadelik beter voel!

Kry oefening deur te gaan stap langs die see of in die veld ... doen iets in die buitelug, maar moenie in die strate op en af draf nie, dis 'common' en maak ander mense skuldig voel. 😄

As jy 'n 'no-name brand' T-Shirt sien wat jy laaik, koop dit ... te hel met die name-goed wat jy in elk geval nie kan bekostig nie - solank dit net gemaklik pas. Laat andere maar hul geld mors op goed wat hulle vals selfvertroue in hul eie plestiek-wêreld gee!

Lag dikwels ... lank en lekker, dit hou jou gesond! Haal diep asem, drink meer water as wat jy moet en kou jou kos fyn. Eet meer van die goed wat mens pluk of uit die grond grawe. Moet nooit alleen alkohol gebruik nie en wanneer jy ietsie vat ... hou matigheid voor oë ... ALTYD!

Behou jou grappige vrinne en vermy die suuriges ... hulle is 'demoralising' en trek jou af na hulle vlak.

Jou huis is jou plek en daar leef jy soos JY wil, too hell met die snobs ... en die beste kar is een wat klaar betaal is!

STEL GOD EERSTE en alle ander goed sal self in plek val ... hê geloof!

Sê vir mense dat jy vir hulle omgee ... môre trek jy dalk jou hout-jas aan, dan's dit te laat!

Geniet die laaste paar dae van 2025 🤗❤️🤗

Inlê, inmaak en ander plattelandse oorlewingstegniekePas ingetrek in ons plattelandse huis, toe begin dit: een vir een k...
22/12/2025

Inlê, inmaak en ander plattelandse oorlewingstegnieke

Pas ingetrek in ons plattelandse huis, toe begin dit: een vir een kom die bure hul opwagting maak – elkeen met ’n bottel iets tuisgemaak onder die arm, soos dit ’n ordentlike dorpie betaam. Appelkooskonfyt (’n spesifieke oom is glo legendaries daarvoor), koejawels in alle denkbare vorms, en selfs gepekelde uie wat jou oë laat traan nog vóór jy die deksel oopdraai. Dis immers ’n klein dorpie waar min gebeur; dus, as nuwe intrekkers arriveer, kom kuier die héle buurt. Voor jy jou oë uitvee, sit jy met ’n jaar se voorraad gevulde Consol-bottels en nie ’n enkele leë rak in die spens nie.

Met al die bottels begin ek wonder: waar kry mense nie net die tyd nie, maar ook al die vrugte en groente vandaan? My gedagte was skaars koud toe buurvrou my inlig oor die geheimsinnige groente-en-vrugte-WhatsApp-groepie – die spil waarom die hele dorpie se inmaak-ekonomie draai. Net voordat ek kan aansluit, laat val my man nonchalant dat hy al voorheen tamatiekonfyt gemaak het. Nog voordat ek behoorlik kan reageer, lui die voordeurklokkie. Daar staan buurvrou, stralend, met ’n hele krat tamaties. "Ag nee,” sê sy vrolik, “ek kan nie tamatiekonfyt kook nie. Sal jou man nie omgee om te help nie?” As inkommers kan ’n mens mos nie kieskeurig wees nie. En so word daar tamatiekonfyt gemaak – vir ons én vir die bure. Solidariteit, plattelandstyl.

Deur die WhatsApp-groep bestel ek toe appelkose. Die kleinste hoeveelheid? Twee kilogram. Ons eet appelkose ontbyt, middagete en aandete, totdat die hele huis met appelkoosmaag sit en ons nie kan voorbly met toiletpapier nie. Ons begin appelkose uitdeel soos pamflette. Dan breek koejaweltyd aan – dié kom van ’n geliefde tannie se boom. Ons sien haar gereeld, en na elke kuier stap ons huis toe met ’n sakkie koejawels. Ek maak koejawels vir nagereg, boeta smous dit om die blok vir ’n ekstra sakgeldjie, en uiteindelik beland die koejawels selfs in ’n kaaskoek. Niks ontsnap nie.

Tot die dag wat my broer onverwags opdaag met tien kilogram klein beetjies. Presies op my besigste tyd by die werk: eksamen vir ou sus en potty training vir kleinsus. Dis toe dat die penny drop – hierdie is nie ’n eenvrou-operasie nie. Ek span die huiswerker in om te skil en te kook, en só begin ons amptelik ook met inlê.

Vandag koop ons in grootmaat, eet ons lekker dik en lê die res netjies in. En as daar weer nuwe intrekkers in die dorp arriveer? Dan staan ons gereed – met ’n bottel onder die arm – om hulle die tendens te leer. Want op die platteland word jy nie net verwelkom nie… jy word ingeleg.

Enetjie PopAlmal het daardie gunsteling item in hul kas. Jy weet… daardie ding wat begin as ’n spoggerige, netjiese top ...
14/12/2025

Enetjie Pop

Almal het daardie gunsteling item in hul kas. Jy weet… daardie ding wat begin as ’n spoggerige, netjiese top vir dorp toe, dan later tuisklere-status bereik. Voor jy jou oë kan uitvee, het dit ’n paar strategiese ventilasiegate opgedoen en is dit bevorder tot slaap- of verftop, maar steeds mág dit nie uit die kas verdwyn nie.

My man het so ’n item. ’n Onderbroek. Ek gaan nie in detail gaan nie, maar kom ons sê: hy het nou aansienlik meer as die drie fabrieksgate waarmee ons dit gekoop het. Ek het al allerhande sluiptoere probeer — van “per ongeluk” weggooi tot diep-onder-die-handdoeke-begrawe — maar daardie ding het die oorlewingsvermoë van ’n karkas in die Kalahari. Dit vind altyd sy pad terug na sy kas… en dan, tot my ontsteltenis, terug na sy bas.

Toe ons oudste op haar tweede verjaarsdag kom, het my broer vir haar ’n pop gegee. ’n Pragtige pop met blonderige lokke wat Goue Lokkies jaloers sou maak. Dit was haar heel eerste pop, en ons het só opgewonde geraak dat die pop eenvoudig gedoop is tot Eerste Pop — of, in die mond van ’n tweejarige: Enetjie Pop.

Enetjie Pop was ’n volwaardige gesinslid. Sy het saam skool toe gegaan, saam winkel toe, saam ouma toe — en ja, soms selfs saam gebad. Die goue lokke het egter teen ’n verstommende tempo begin koek en klit. Wanneer my dogtertjie slaap, het ek soos ’n toegewyde pop-haarkapper voor die TV gesit en probeer kam. Aan die begin was dit maklik… maar toe raak Enetjie Pop se hare broser as my geduld op ’n Maandagoggend.

Google het conditioner aanbeveel. YouTube het Aquacream voorgestel. Ek het alles probeer — van tuisgemaakte haarmaskers tot gebede — tot ek eendag net moed opgegee het. Selfs my skoonsus, wat sou wen in enige Hare Stileer Marathon, het ook finaal padgegee.

Met die jare het Enetjie Pop eers haar klere verloor, en haar lappelyfie het ’n effense woestynbruin tint aangeneem. Toe begin die hare so dread, sy het gelyk soos ’n lid van daardie “Ons leef van die aarde af en eet net sonlig”-vegane wat diep in ’n bohemiese woud woon.

My kind het egter vasgeklou aan die gruwelike pop. Ek het só skaam geword dat ek begin redeneer het dat Enetjie Pop eerder die motor moes oppas wanneer ons winkels toe gaan. Uiteindelik, na baie nuwe poppe, is Enetjie Pop vergete en weggebêre.
Maar glo my: niks bly weg soos jy dit wil hê nie.

Elke ses maande maak Enetjie Pop ’n dramatiese terugkeer. Een keer met permanent marker-tatoeëermerke. ’n Ander keer met geverfde vinger- en toonnaels. Toe my kind make-up ontdek, het Enetjie Pop appelrooi wange gehad waarmee sy selfs Chuckie sou laat sidder het. Ek het ged**k ek het haar uiteindelik finaal weggesteek…

Tot vandag.

Ek kom van die werk af en stap in op ons kleinste wat ewe trots twee poppe vashou: haar eie pop — les geleer — en daar, in haar ander arm, die onuitroeibare Enetjie Pop. Lewend en wel. Nog steeds skrikwekkend.

En toe besef ek: ons het almal ’n Enetjie Pop in ons lewe — daardie ietsie snaaks, skaam, geheimsinnig of effens verleentheidwekkend wat net nie wil padgee nie. Daardie ding wat ons wegsteek… maar wat elke nou en dan soos ’n geraamte in ’n kas terugkom om hallo te sê.

En diep in my hart weet ek: Enetjie Pop gaan hierdie familie oorleef.

(Foto van Google af "geleen".)

TuinroeteWanneer dit by vakansietyd kom, is daar een standaardantwoord wat uit menige Gautenger se mond rol wanneer jy v...
09/12/2025

Tuinroete
Wanneer dit by vakansietyd kom, is daar een standaardantwoord wat uit menige Gautenger se mond rol wanneer jy vra wat hul planne is:�“Ons gaan die Tuinroete doen.”�En dan glimlag hulle selftevrede, stap by die voordeur uit, loop ’n boggelpatroontjie deur hul tuin, en gaan weer by die agterdeur in—asof hulle die hele Suid-Kaap verken het.
So stap ek en my man toe ook een Sondagmiddag ons eie “Tuinroete”, hand aan sy arm, son op ons skouers… en ek begin, soos net ’n regte vrou kan, te murmureer oor die slegte werk wat ons tuinman deesdae aflewer. Die bossies lyk mismoedig, die blomtuin treurig, en die klippe lê rond soos verdwaalde skoolkinders.

Maandag hoor ek by ons huishulp dat die tuinman glo heeldag op sy selfoon sit—dat hy meer met WhatsApp kommunikeer as met ’n grassnyer. Toe steek die klein duiweltjie natuurlik weer in my kop op, en die aand kla ek só by my man dat ek myself amper moes vererg oor hoe erg ek kla.
Dinsdagoggend, wat tweeledig die tuinman se werksdag én sy D-dag is, staan my man met ’n doodernstige gesig vir hom en sê:�“Vandag skryf jy eksamen. As ek vanmiddag nie met ’n glimlag deur hierdie tuin kan stap nie—dan is jou werk geskiedenis.”

Die tuinman skrik so groot dat hy sommer in vyf ratte gelyk inspring. Hy ruk onkruid uit met ’n ywer wat enigiemand sou laat d**k hy soek goud onder die grond. Die beddings word netjies gemaak… maar toe begin hy uitdun. En nie sommer uitdun nie—uitbeen.�Teen die middag lyk ons tuin soos ’n graad 1 leerder wat pas sy eerste tande begin wissel het: gapend, skraps en effens traumaties.
Die volgende dag ry die vullistrok weg met wat oorleef het van my geliefde plante—hulle het soos helde op pad Valhalla in die agterkant van die trok gelê.

Woensdag laatmiddag sit ek en manlief, elk met ’n wyntjie in die hand, op die stoep en staar na ons haasbek-tuin—’n tuin met meer leemtes as lewe. Dit het gevoel asof ek na ’n gesig kyk wat dringend ’n brug of ’n kunstand nodig het.
Somer breek aan, die reën bly weg, en die dam raak leeg. Met ál daardie oop grondkolle sou die grond gou uitdroog en elke plantjie waarmee ek nog emosioneel verbind was, die emmer skop. Die enigste oplossing? Grondbedekkers. Maar ek kry skaars kans om die idee aan my man te noem—die kinders eis my aandag soos ’n alarmklok sonder snooze-knop.

Laat Donderdagmiddag, terwyl ek rustig by die eetkamertafel sit en werk, hoor ek ’n bakkie in die inrit. Ek loer by die venster uit en sien die kwekery se vrou, haar assistent en my man besig om wit sakke af te laai.�Toe ek gaan kyk—sien ek houtbas. Berge houtbas.
“En dit?” vra ek met my beste mengsel van argwaan en humor.�“Vir die grond,” sê my man, so kalm asof dit die ABC’s is.
Ek wou nog vies raak, maar die kwekery-vrou staan daar met haar vriendelike glimlag — en toe pak ek maar my beste tafelmaniere uit.
Maar op pad terug huis toe tref dit my: my man is briljant.�Dis somer. Dis droog. ’n Mens plant mos nie nou nie — dié goed gaan nie eers kans kry om te wortel nie. Bas, dít maak sin!
Oor die naweek strooi ons die hele tuin vol bas. Opeens lyk die beddings afgerond en netjies—soos iets wat jy in ’n glansryke tydskrif sou sien en d**k: “Ag, wens dit was myne.”

En die wonderlikste van alles? Met waterbeperkings mag ons net twee keer per week natgooi, maar as jy jou hand enige tyd onder die bas insteek, is die grond koel en klam soos ’n geheime oase.

08/12/2025

Liefste PA

Jy sou seker gelag het as jy my nou kon sien—
so ernstig oor ’n dag soos hierdie.
Jy’t altyd gesê ek moet nie te lank stilstaan nie,
“vat ’n koffie, vat ’n kans, vat ’n middagslapie.”

Maar ek mis jou.
Nie net jou stem nie,
maar daardie stilte tussen jou sinne,
jou manier van net daar wees
sonder om veel te sê.

Ek hoor jou soms in myself.
As ek ’n skroef losdraai,
of iets verkeerd uitreken,
dan sê ek n kragwoord presies soos jy.

Dis snaaks,
hoe mens eers regtig begin kyk
wanneer daar niks meer is om na te kyk nie.

Jy’s weg.
Al lankal.
Maar ook nie heeltemal nie.

Vandag is maar net ’n dag.
Maar jy’t nog steeds plek.
So tussen my gewoontes,
my stories,
en die manier waarop ek my koffie drink.

ModesIn ons dorpie — waar almal mekaar se verjaarsdae, skoonma-stories en honde se name ken — is inkopies nogal ’n avont...
06/12/2025

Modes
In ons dorpie — waar almal mekaar se verjaarsdae, skoonma-stories en honde se name ken — is inkopies nogal ’n avontuur. Spar regeer soos ’n mini-monargie met ’n absolute monopolie, en sy enigste teenstander is die dapper maar nederige Usave, wat lyk of hy met ’n rekkie en ’n gebed bymekaar gehou word.
As dit by klere kom, is die keuse ook nie juis oorweldigend nie. Ons het ’n Ackermans, ’n Mr Price, tannie Anna se Boetiek (wat meer vir dames van die “ervaring ryker” oesjaar bedoel is), en dan — trommelgeroffel asseblief — die ikoniese P.E.P. Boetiek. ’n Instelling op sy eie. En soos die kinders sou sê: Say what you want, maar PEP hou jou warm én modieus… op hulle eie manier.

Dis dus geen wonder dat wanneer dit civviesdag by die skool is, die kinders soos dubbels en drielinge rondloop nie. As daar ’n modetendens is, is dit ’n PEP-tendens.

So gebeur dit toe dat ek een oggend by die werk instap — vrolik en verruklik — net om te sien dat ek en twee kollegas presies dieselfde groen blare-top aan het. ’n Regte PEP-nommertjie wat elkeen van ons, in ons eie naïewe hartjies, ged**k het uniek is. Daar staan ons toe: drie wandelende bosse blare. Maar trots? O ja, ons dra daardie tops asof dit Zara se nuwe seisoen is.

’n Week later pryk ’n gewese aktrise — een wat onlangs hier om die draai kom aftree het en nog steeds d**k sy is op die rooi tapyt — op die voorblad van Die Sarie. En wat dra sy? Ja, jy raai reg: ons top. Skielik voel dit of ons mode-ikone is, al het ons toppe oorspronklik R79,99 gekos en met daardie effense PEP-parfuumreukie kom.

’n Week daarna stap ek in Spar rond met my geliefde blare-top. Ek loop ’n vriendin raak, en die twinsie-stories begin weer van voor af. Sy vertel toe hoe ’n vriendin van Durbanville, nogal baie high-fashion, die top bewonder het. “Dis só mooi!” het sy gesê. “Waar het jy hom gekoop?”
My vriendin, skaam maar eerlik, antwoord:“Ag, ek kan nie mooi onthou nie… maar ek d**k die plek begin met ’n P.”
Waarop Durbanville-vriendin toe doodseker antwoord:“Poetry. Dis definitief Poetry-kwaliteit.”

En dáár staan ek, in Spar se groente-gang, in my R79,99-top, en d**k: Kyk hoe draai ’n PEP-top die wêreld om!

Die MondelingEen gewone middag kom my graad 2-kind met ’n toegefrommelde briefie in sy huiswerkboek aangestap. “Ons moet...
05/12/2025

Die Mondeling
Een gewone middag kom my graad 2-kind met ’n toegefrommelde briefie in sy huiswerkboek aangestap. “Ons moet ’n mondeling doen,” staan daar. Ek sê ons, want julle weet mos—ons meedoenerige mammas skryf meeste van die mondelings, en dan leer ons dit saam asof ons op die verhoog van die ATKV Redenaars staan.
Ons besluit toe om Sondagmiddag die bul by die horings te pak. Die tema: Nagdiere. Boeta is stertevenster-skrik vir vlermuise, maar nee wat, hy’s vasbeslote: “Mamma, ons praat vír vlermuise!”
Almal anders gaan natuurlik oor uile praat—uile is immers oulik en fotogenies. Niemand gaan sommer ’n vlermuis kies nie; die goed lyk vir baie mense soos iets wat uit ’n grillerige hoek van ’n spookhuis gevlieg kom.
Pappa, die trotse IT-man, stel toe voor dat ons vir ChatGPT vra om te help. Volgens hom is ChatGPT nie “the next big thing” nie—dis THE THING! Pappa se oë blink soos ’n rekenaar wat pas ge-“reboot” het.

ChatGPT skryf ’n netjiese stukkie. Ek en Boeta lees deur. Maar volgens Boeta kort daar groot woorde—soos aanpasbaaren interessant, en natuurlik moet ons iets sê oor die “radar” waarmee vlermuise vlieg (echolokasie, maar kom ons los dit vir graad 10). Goed, dan werk ons dit in.

Boeta lees weer. “Nee, Mamma,” sê hy met handjies in sy sye, “elke paragraaf begin dieselfde!” En daar staan ons toe, paragrawe oorskryf soos twee joernaliste op ’n sperdatum.
Toe breek die ware toets aan—die leer.Boeta kan natuurlik nie stil sit nie. Daardie kind se voete het ’n ingeboude wieletjie-meganisme—altyd aan die gang! Ons besluit toe om in die tuin te stap terwyl ons memoriseer.

Daar loop hy vóór, ek agterna met die papier in my hand, en klein sussie het intussen die tuin se watergeweertjie ontdek. Groot pret vir haar; groot uitdaging vir ons.
Ek lees: “Ons kan baie by die aanpasbaarheid…”Boeta antwoord: “…van vlermuise leer.”En spats!—sussie skiet ons nat.Boeta stap! Ek hardloop agterna! Sussie skiet weer!Ek lees, hy memoriseer, en sy maak seker ons lyk soos nat hoenders.

Ousus staan intussen van ’n afstand af en kyk na ons besige toneel soos iemand wat na ’n natuurprogram kyk—heel vermaak. Sy het natuurlik al lankal haar mondeling gememoriseer toe ons nog by die eerste sin vasgesteek het. Maar sy leer anders. En so, leer ek toe weer, is elke kind uniek—met hul eie ritme, maniere, en persoonlikhede.
En ons as ouers?Ons leer om net so aanpasbaar te wees soos daardie vlermuise waarvan Boeta so dapper wil vertel.

Die Onskuld van KindweesDie NG Moedergemeente hou vanaand hul jaarlikse Kerssangdiens én die groot aanskakeling van die ...
04/12/2025

Die Onskuld van Kindwees
Die NG Moedergemeente hou vanaand hul jaarlikse Kerssangdiens én die groot aanskakeling van die dorp se kersliggies — al agt van hulle. (’n Mens moet darem onthou: ons dorp is klein, maar sy hart is groot.) Ek en my ma besluit toe om die twee oudste kuikens van ons nes van drie saam te vat. My man bly by die huis om na die jongste, ons laatlammetjie, om te sien.
My kinders ken natuurlik niks van NG kerk maniere nie. Toe ons instap, staan hulle met oop monde en groot oë: “Waaaát… so ’n GROOT kerk?!” Hulle lyk of hulle pas die Taj Mahal ontdek het. Ons kies die gallery sodat hulle beter kan sien—en sodat minder mense my opvoedkundige tegnieke kan beoordeel.

Voor die diens af skop, moes ons natuurlik eers deur die parkeerdrama. Die plaaslike Pakistanse manne is besig om heel vrolik krieket op die plein te speel. My ma raak onmiddellik ontsteld. “Hulle gaan ’n karruit uitklits, jy sal sien!” sê sy, al is daar nie ’n bal in sig wat harder as ’n hoender eier kan wees nie. Toe sy ’n polisiewa sien, marsjeer sy reguit daarheen om ’n klag te lê. Ek krimp ineen van verleentheid—ons is laat, die kinders is opgewonde, en nou moet ek met die spul aanstap terwyl Ma haar eie misdaadreeks begin. In die proses verloor ek haar heeltemal.

Teen Gesang Nommer Twee sien die oudste vir ouma—heel onder, styf teen die muur vasgepen soos iemand wat op parool is. Die kinders besluit toe dis ’n lewensmissie om haar by ons te kry. Net toe die koor hul laaste noot uitstoot, skiet die twee galop af gallery toe, soos veerpyltjies met bene, en sleep ouma terug—presies toe die dominee op die punt is om “Amen” te sê.
En toe begin die égte vertoning.

Die jongste kan glad nie stil sit nie. Die kers wat ons later moet aansteek, verander sommer in ’n geweer, hy wip en wikkel, sy bene dans die twist en sy kop hang soos ’n pap sonneblom. Ek kyk rond en sien hoe elke ander kind soos ’n engeltjie sit—en daar sit my charismatiese, energie-oorlaaide kind wat klaarblyklik d**k hy is in ’n aksiefliek. Ek wil my kop in ’n psalmboek wegsteek.

Uiteindelik gee ek hom ’n taak: “Tel dinge, enige dinge!”
Hy is dadelik in sy element.
“Die kersboom het 48 liggies, mamma!”
“Die regterkant se banke is 13.”
“Die blokkies in die venster is 21.”
Alles word getel—ek wag net vir hom om die dominee se hare ook te begin klassifiseer.

Maar toe slaan die kerse-paniek toe.“Mamma, jy hét gesê ons gaan nou die kerse aansteek.”“Netnou, boeta, netnou.”Die gaskunstenaar sing.“Mamma… nou?”Die blaasorkes begin speel.“KERSÉ, mamma!? KERSÉÉ!!”Ek sit daar en glimlag soos iemand wat al hoop opgegee het.
My oudste sit intussen doodstil langs haar ouma, trots soos tienjarige royalty. Sy ken darem sulke aande—die meisiekind het al meer Kerssangdienste oorleef as ek warm sjokolade gedrink het.

Uiteindelik sluit ons die aand in ware NG-styl af met die sing van “Amen”. En toe, nog voordat die laaste noot verdwyn, vra my oudste op vol hardheid:
“Gaan ons nou Jingle Bells sing?!”
En daar het ek geweet: Die Here werk nog aan ons.

Address

Cape Town

Website

Alerts

Be the first to know and let us send you an email when Koffie en Krulle op ' n Klein dorpie posts news and promotions. Your email address will not be used for any other purpose, and you can unsubscribe at any time.

Share

Category