10/06/2026
VALIA Familie 2026
Baie geluk en alle sterkte aan Mnr. Ruvaun Olivier!
Hoërskool Transvalia wens Mnr. Ruvaun Olivier opreg geluk met sy aanstelling as die nuwe hoof van Hoërskool Bonnievale in die Wes-Kaap.
Mnr. Olivier is sedert 2006 deel van die Valia-familie en het sy loopbaan by die skool begin as Wiskunde-onderwyser. Deur sy toewyding, harde werk en leierskap het hy homself oor die jare gevestig as ’n gewaardeerde opvoeder en uiteindelik as Adjunkhoof van die skool.
Namens die hele Valia-gemeenskap wil ons ons opregte dank uitspreek vir die groot bydrae wat hy oor twee dekades tot die skool, ons leerders, personeel en breër gemeenskap gemaak het. Sy passie vir onderwys, diensbaarheid en die ontelbare ure se werk agter die skerms het ’n blywende impak gelaat en ’n belangrike rol gespeel in die groei en sukses van Hoërskool Transvalia.
Hoewel hy ’n groot leemte laat, gun ons hom hierdie welverdiende geleentheid waarvoor hy oor baie jare hard gewerk het. Ons wens vir Mnr. Olivier en Me. Olivier alle voorspoed en seën toe in hierdie nuwe hoofstuk.
Baie dankie vir alles wat u vir Valia beteken het. U nalatenskap sal nog lank voortleef.
Mnr. Olivier begin reeds die 1ste Julie by sy nuwe skool. Ons gaan jou baie mis. 🙏🏼