08/12/2025
Ontmoet ons spreker vir die Geloftefees, Advokaat Marius Ackermann - Direksievoorsitter van Erfenisstigting en Voortrekkermonument.
Marius is op 26 Februarie 1951 in Germiston gebore en het sy skoolloopbaan in Standerton en Rustenburg voltooi voordat hy diensplig in die Staatspresidentswag gedoen het. Hy het aan die Universiteit van Pretoria studeer waar hy ’n BA, LLB en LLD in Strafreg, asook ’n MA in Kreatiewe Skryfkuns behaal het.
In sy loopbaan was hy onder meer staatsaanklaer, advokaat en regsadviseur in die Kantoor van die Staatspresident (1987–1994). Marius is die skrywer van vier humoristiese romans, kortverhale en talle artikels vir publikasies soos Maroela Media, die FAK se Flink en Pretoria Historia.
Hy het ook die gedenkboek Ooskerk 90 geskryf oor die NG gemeente Pretoria-Oos se kerkgebou, ontwerp deur Gerard Moerdijk. Deur die jare het hy dikwels lesings aangebied oor monumente en geskiedkundige figure soos J.C. Smuts en J.G. Strijdom, en dien hy reeds bykans tien jaar in die direksies van die Erfenisstigting en die Voortrekkermonument, waarvan hy tans voorsitter is.
Hy stel groot belang in Suid-Afrika se geskiedenis, kultuur, sport en politiek, is getroud met Susie, ’n afgetrede onderwyseres, en hulle het vier kinders en agt kleinkinders. In sy vrye tyd geniet hy stap en die inheemse natuurlewe.
Skakel na die dag: Geloftefees
Kontak Riana Heyneke – 082 782 2682 vir meer inligting.