05/09/2026
MEDIAVERKLARING
LIP AS KOALISIEVENNOOT VAN DIE DA IN LANGEBERG MUNISIPALITEIT KAN NIE HULLE HAND WAS VAN HULLE EIE VERANTWOORDELIKHEID NIE
Die ANC in Langeberg neem kennis van die Langeberg Independent Party (LIP) se onlangse mediaverklarings waarin hulle hul uitspreek oor behuising, swak dienslewering, infrastruktuur en ander uitdagings waarmee ons gemeenskappe daagliks worstel. Die vraag wat inwoners egter tereg behoort te vra, is baie eenvoudig: As LIP so bekommerd is oor hierdie probleme, waarom het hulle dit nie reeds aangespreek terwyl hulle self deel is van die bestuur van die munisipaliteit as koalisievennoot van die DA nie?
LIP probeer nou voorgee asof hulle 'n opposisieparty is wat van buite af kritiek lewer. Die waarheid is egter dat hulle vir jare 'n koalisievennoot van die DA was en steeds deel vorm van die politieke struktuur wat die Langeberg Munisipaliteit beheer. Hulle kan nie vandag vingers wys na behuisingsprobleme, swak dienslewering en begrotingskwessies asof hulle niks daarmee te doen gehad het nie. Hulle was deel van die besluite, deel van die bestuur en deel van die stelsel wat hierdie probleme moes oplos.
Wanneer LIP praat oor mense wat jare lank vir behuising wag, moet die publiek onthou dat hulle self verantwoordelikheid dra binne die munisipale raad. Hulle kan nie nou skielik optree as kampvegters vir behuising terwyl hulle vir jare toegang gehad het tot die platforms waar hierdie kwessies bespreek en bestuur word nie. Gemeenskappe wil nie meer "AI" verklarings op facebook lees nie. Hulle wil resultate sien.
Nog meer kommerwekkend is die feit dat LIP se eie raadslid, Danny September, volgens die munisipaliteit se leierskapsregister op verskeie invloedryke strukture dien. Hy dien onder andere op die Uitvoerende Burgemeesterskomitee, was voorsitter van die Munisipale Openbare Rekeningekomitee (MPAC) en is betrokke by behuising, gemeenskapsdienste en ander belangrike komitees. As iemand dus beweer dat daar probleme is met dienslewering, begrotings, administrasie of behuising, behoort dieselfde persoon ook te verduidelik wat hy in hierdie senior rolle gedoen het om die probleme aan te spreek en op te los.
Mens kan nie aan die een kant sê die munisipaliteit faal nie, maar aan die ander kant op die hoogste besluitnemingsvlakke sit waar toesig gehou en aanbevelings gemaak word nie. Dit is eenvoudig nie geloofwaardig nie. Dit laat inwoners met die indruk dat LIP net wakker word wanneer 'n verkiesing nader kom.
Kospakkies, hempies en politieke skynheiligheid
LIP praat gereeld oor armoede, werkloosheid, EPWP-poste en kospakkies. Tog is hulle bekend vir hul veldtogte met "Geel Shoprite-Sakkies" en "Sporthempies" waarmee hulle gereeld ondersteuning by gemeenskappe probeer werf. Die ANC glo dat geen inwoner van Langeberg se waardigheid gekoop kan word met 'n kospakkie, 'n hempie of 'n tydelike werkgeleentheid nie. Ons mense verdien volhoubare ekonomiese geleenthede, ordentlike behuising en behoorlike dienslewering. Korttermynhulp is soms nodig, maar dit kan nooit as plaasvervanger dien vir werklike ontwikkeling en langtermynoplossings nie. 'n Kospakkie raak op. 'n EPWP-kontrak eindig. Maar die gevolge van politieke besluite bly vir jare by ons gemeenskappe.
Die waarheid oor die Arbeid-satellietkantoor
Wat die kwessie van die voorgestelde satellietkantoor van die Departement van Arbeid vir UIF- en arbeidsdienste betref, moet die waarheid ook vertel word. Hierdie gesprekke het nie oornag ontstaan nie. Daar is reeds vir 'n geruime tyd gesprekke gevoer tussen ons plaaslike ANC Parlementêre Kantoor en Assistent Direkteur van die Worcester Arbeid Sentrum, Marius Murray asook verskillende ander rolspelers om dienste nader aan inwoners van Ashton, Montagu, Koo, Keisie, McGregor waar hulle nooit by kom en ander omliggende gebiede te bring. Die behoefte is lank reeds geïdentifiseer omdat inwoners groot afstande moet reis om dienste te ontvang. Dit is dus misleidend wanneer LIP probeer voorgee dat hulle verantwoordelik is vir 'n proses wat reeds lank aan die gang is en deur verskeie belanghebbendes ondersteun word.
Die Commando-gebou bewerings
Ons neem ook kennis van LIP se bewerings dat die ANC en DA glo by die Commando-gebou in Robertson vergader het oor politieke samewerking. Volgens LIP se eie verklaring het hulle beweer dat werkers aan hulle inligting verskaf het oor vermeende gesprekke tussen die ANC en DA. Die waarheid is egter dat die gesprek waarna verwys word nie 'n politieke koalisievergadering was nie, maar gesprekke tussen Chris Nissen van die Menseregtekommissie en Celeste Matthys
(Direkteur Langeberg Munisipaliteit) rakende die omstandighede van ongeveer 30 inwoners van Van Loveren wat steeds in die Goudmyn-saal woon sonder behoorlike privaatheid en menswaardige omstandighede.
Dit is juis hierdie soort ongeverifieerde aantygings wat verwarring in die publiek skep. Terwyl LIP uitsprake maak, wag die mense wat onder moeilike omstandighede leef steeds vir werklike oplossings. Dit is des te meer kommerwekkend aangesien behuising en gemeenskapsdienste onder die portefeuljes val waar LIP self invloed en verantwoordelikhede dra.
LIP se AI-politiek en afstand van die gemeenskap
LIP se skynheiligheid word ook weerspieël in hul toenemende gebruik van AI-gegenereerde Facebook-plasings, grafika en mediaverklarings. 'n Mens sou meer verwag van hul woordvoerder wat sy politieke grondslag binne die ANC gebou het en verskeie leiersrolle beklee het. Mnr Davin Hull 'n geleerde sal 'n baie beter werk doen met hulle media-verklarings want sal die realiteit en werklike weergawes wees van ons gemeenskappe en nie die van AI-gegenereerde robot. Dit is teleurstellend dat 'n party wat beweer hulle verstaan die gemeenskap, dikwels kommunikeer deur AI-gegenereerde robot
boodskappe wat nie die werklike taal, probleme en ervarings van ons mense weerspieël nie.
Veral omdat hulle oor mense beskik wat oor die nodige ervaring en vaardighede beskik soos oud onderwyser Mnr Davin Hull. Die vraag ontstaan waarom daar nie meer ruimte geskep word vir ander bekwame persone om leiding te neem en groter rolle te vervul nie. Leierskap behoort nie oor persoonlike posisies te gaan nie. Dit behoort oor diens aan die gemeenskap te gaan.
Stem saam met die DA, kla dan daarna daaroor
Ons neem ook kennis van die toenemende frustrasie wat vanuit ander politieke geledere uitgespreek word oor LIP se stemgedrag in die raad. Daar word daarop gewys dat LIP gereeld saam met die DA stem oor begrotings, tariewe en ander belangrike beleidskwessies, maar daarna mediaverklarings uitreik waarin hulle dieselfde besluite kritiseer. Hierdie tipe politiek skep verwarring en ondermyn vertroue. Gemeenskappe verdien eerlikheid, konsekwentheid en verantwoordbaarheid.
Die werklikheid in ons informele nedersettings
Die inwoners van informele nedersettings, plaaswerkers, werklose jeug en arm huishoudings weet dat hulle nie net mooi woorde nodig het nie. Hulle benodig konkrete oplossings. Hulle benodig verbeterde paaie, beter behuising, goeie basiese dienste en werklike ekonomiese geleenthede.
Gaan kyk na die werklikheid in Mountain View in Montagu, Wingerdlaan in Robertson, Nkandla in Zolani, Riemvasmaak in Ashton en ander informele nedersettings. Daar is steeds inwoners wat met ernstige uitdagings rondom water, sanitasie en beligting worstel. In sommige gebiede moet inwoners steeds ver stap vir basiese behoeftes en kinders moet vroegoggend en saans in die donker beweeg. Hierdie is die werklike uitdagings waarmee mense daagliks leef.
Terwyl die ANC aanhou veg vir basiese dienste vir hierdie gemeenskappe, vra ons weer: Waar was LIP? Waar was hulle wanneer gemeenskappe opgestaan het vir beter omstandighede? Waar was hulle wanneer inwoners 'n stem nodig gehad het?
Oproep aan die inwoners van Langeberg
Ons doen daarom 'n beroep op die inwoners van Langeberg om verder te kyk as Facebook-plasings, AI-gegenereerde mediaverklarings en verkiesingspraatjies. Vra wie het werklik verantwoordelikheid geneem. Vra wie het resultate gelewer. Vra wie was deel van die bestuur van die munisipaliteit. Vra wie het saam die besluite geneem wat ons gemeenskappe vandag raak.
Maak oop julle oë. 'n Stem vir LIP is in werklikheid 'n stem vir dieselfde DA-koalisie waarvan hulle reeds deel vorm. Indien dieselfde politieke vennote na die verkiesing weer saamwerk, moet inwoners hulself afvra of hulle nog vyf jaar van dieselfde probleme, dieselfde verskonings en dieselfde swak dienslewering kan bekostig.
Die ANC sal aanhou veg vir die mense van Langeberg, veral vir diegene wat die swaarste trek. Ons sal aanhou verantwoordbaarheid eis van almal wat deel vorm van die bestuur van die munisipaliteit en ons sal voortgaan om op te staan vir die behoeftes van ons gemeenskappe.
'n Stem vir veranderingspraatjies sonder aanspreeklikheid is nie 'n oplossing nie. Die mense van Langeberg verdien beter.
Einde.
Andile Shibili
Carl Baartman
Lindiwe Kahla
Allan Lombard
Mondstuk Media
Bonnievale se mense.
Bonnievalers op Facebook
McGregor Mcf
Lindiwe Kahla
Ashton en sy dinge
Als Oor Robertson
Ashton Parliamentary Constituency Office