10/06/2026
Vloedramp Mei 2026
Die vloed het geweldige skade in ons gemeenskap aangerig, maar te midde van die verwoesting het ons ook die krag van omgee en medemenslikheid beleef.
Hoewel Badisa nie oor fondse of eie hulpbronne beskik om noodleniging te verskaf nie, kon ons danksy ruim skenkings 473 gesinne ondersteun met klere, beddegoed, kombuisware en ander noodsaaklike items.
Hierdie hulp was moontlik gemaak deur skenkings uit Rawsonville, asook deur skole, kerke en individue van Kaapstad tot Riversdal. 'n Spesiale woord van dank aan die skole van Worcester wat besonder ruim bygedra het.
Met finansiële bydraes van die Sinode van die NG Kerk Wes-Kaap, Badisa Hoofkantoor en verskeie individue, asook skenkings van nie-bederfbare voedsel, kon 457 kospakkies versprei word.
Ons opregte dank gaan ook aan die talle vrywilligers wat gehelp het om skenkings te sorteer en uit te deel. Sonder hulle sou hierdie omvangryke hulpverlening nie moontlik gewees het nie. Ons oudste vrywilliger was 'n 87-jarige dame van HLM.
Gesinne in Geelkampies, Riverbank, Hammat Square, Spokiesdorp en op omliggende plase het by die hulpverlening gebaat.
Badisa se personeel gee alle eer aan ons Hemelse Vader, wat mense se harte beweeg om uit te reik na dié in nood.
Baie dankie aan elkeen wat bygedra het. Mag u ryklik geseën word.